VF Nuusbriewe : No.240 : 13 Augustus 2010
Nuusbriewe:  

 
 
 
 
e-Nuusbrief<    
 
VF-NUUSBRIEF No. 240: 13 Augustus 2010

1. Vrouedag-debat: Waarom diskriminasie teen kapt. Renate Barnard? - dr. Corné Mulder
2. ANC speel met vuur deur te torring aan mediavryheid - adv. Anton Alberts

Die VF Plus steun persvryheid in sy totaliteit en sal enige pogings van die ANC om staats- of ander beheer oor die media te kry hand en tand beveg. "Die ANC se voorgestelde onafhanklike mediatribunaal kan nooit onafhanklik wees as dit deur die ANC-meerderheid aangestel word nie. So 'n tribunaal sal die demokrasie en die waghondfunksie van opposisiepartye soos die VF Plus ondermyn," het dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier in reaksie op die voorstelle gesê. 

Erkenning aan Fred Mouton - Die Burger - 6/8/2010

   

VF Plus toespraak in die Parlement oor Nasionale Vrouedag - dr. Corne Mulder

"As die regering so gesteld is op gelyke regte vir vroue, waarom moet ‘n wit vrou, naamlik kapt. Renate Barnard, vir 5 jaar ‘n stryd voer om bevorder te word in die Polisie. Sy voldoen aan al die vereistes en is al twee keer goedgekeur vir die pos" - dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep in die Parlement.

11 Augustus 2010

Die VF Plus is van mening dat daar in die afgelope klompie jare groot vordering gemaak is om vroue nie net te bemagtig nie, maar ook om gelyke geleenthede daar te stel. Dit is goed en reg en sal die VF Plus alle maatreëls ondersteun om aan vroue gelyke geleenthede te gee. Die VF Plus besef terdeë welke belangrike rol die vrou speel en wil alle vroue daarvoor eer en respekteer.

Maar alles is ongelukkig nie maanskyn en rose nie. Die ANC wil die indruk wek dat hulle aan die voorpunt is as dit kom by gelyke regte en gelyke geleenthede vir vroue.

Die werklikheid in SA is dat daar gevra moet word of die gelyke geleenthede en kans op vooruitgang vir vroue in SA vir ALLE vroue geld en of daar onderskeid getref word tussen kleur en ras. In SA is daar ‘n aanslag teen wit vroue en geniet hulle nie gelyke regte en veral nie gelyke geleenthede nie. Die direkteur-generaal van Arbeid, Jimmy Manyi, as president van die Black Management Forum sê dat wit vroue uitgesluit moet word by die toepassing van regstellende aksie. Dit is sy standpunt. Hier word dus blatant ‘n onderskeid gemaak op grond van ras.

Indien die ANC-regering werklik glo dat daar gelyke geleenthede moet wees vir alle vroue, waarom moes  kaptein Renate Barnard “’n wit vrou” haar tot die hof wend om haar regmatige bevordering tot superintendent af te dwing. Dit bewys die regering se beleid en toepassing van regstellende aksie is inherent verkeerd en onwettig soos ons nog altyd geargumenteer het. Hoekom moet ‘n wit vrou, naamlik kapt. Renate Barnard, vir 5 jaar ‘n stryd voer om bevorder te word in die Polisie. Sy voldoen aan al die vereistes en is al twee keer goedgekeur vir die pos. Daar is geen ander geskikte swart kandidate vir die pos nie, maar die Polisie weier om haar te bevorder. As die ANC-lede wat hier sit vandag sê hulle ondersteun die beleid van die ANC van “gelykte regte en gelykte geleenthede vir alle vroue” dan behoort hulle in te gryp en die Polisie se appèlaansoek op die uitspraak van die Arbeidshof ten gunste van kapt. Barnard onmiddellik te staak. Selfs die hof het gesê haar nie-bevordering kom neer op rassisme.

Solank as dinge soos hierdie in SA met vroue uit verskillende minderheidsgemeenskappe gebeur of dit wit, bruin of Asiër is, sal die woorde van gelyke geleenthede vir alle vroue geen betekenis hê nie en net ’n hol propaganda-kreet bly.


ANC speel met vuur deur te torring aan mediavryheid

“Die ANC speel met vuur deur te torring aan mediavryheid,” het adv. Anton Alberts, Vryheidsfront Plus-parlementêre woordvoerder oor kommunikasie, gesê.

Volgens Alberts sal dit die eerste stap wees in die globale isolasie van Suid-Afrika en ons terugneem na die sanksie-dae van die 1980’s. Hy het verder aangevoer dat hierdie stap uiteindelik die grondwet in geheel kan lostorring en dus die grondslag kan stel vir die herlewing van ou konflikte. Hierdie waarskuwing is gerig na aanleiding van wetgewing voor die parlement asook die ANC se voorgestelde mediatribunaal.

“Die VF Plus steun persvryheid in sy totaliteit en sal enige pogings van die ANC om staats- of ander beheer oor die media te kry hand en tand beveg,” het Alberts gesê. Daar bestaan alreeds instrumente om die media aanspreeklik te hou, soos die howe en die ombudsman. Die ANC behoort veel eerder aandag te gee om toegang tot die howe meer koste-effektief vir die gewone burger te maak in plaas daarvan om die gesag van die bestaande instrumente te ondermyn. Meeste persone kan nie ‘n saak teen mediamaatskappye in die howe beveg nie weens finansiële wanbalanse.

Alberts het voorts verwys na Hongarye wat onlangs ‘n staatsbeheerde media-owerheid daargestel het wat mediavryheid in die land bedreig. “Hongarye is ‘n lewende bewys dat mag korrupteer en dat algehele mag algeheel korrupteer. Soortgelyk aan Suid-Afrika, het die regerende party in Hongarye, die Fidesz Party, ‘n tweederde-meerderheid en het op grond daarvan eensydig besluit om ‘n media-owerheid te skep wat die magte het om mediavryheid aan bande te lê. Die gevolg daarvan, saam met ander onsmaaklike maatreëls oor bankbelastings, is dat die wêreldgemeenskap ongunstig en skepties na Hongarye begin kyk. Suid-Afrika kan uiteindelik dieselfde lot verwag indien die mediatrubinaal sou realiseer weens die ANC se parlementêre meerderheid.”

Die VF Plus sal die verwikkelinge fyn monitor en hom selfs tot die Konstitusionele Hof wend indien nodig ten einde hierdie misplaaste idee van die ANC te kelder.


Algemene foonnommer van die VF Plus: 0861 700 700