Geskiedenis : Die Vryheidsfront Plus


Genl C Viljoen <
ANC Akkoord <
 

Verkiesing 1994
Sewe-en-twintig politieke partye het deelgeneem aan die Kemptonpark-onderhandelinge voor April 1994. Die Vryheidsfront is in hierdie tyd onder leiding van genl Constand Viljoen gestig en die party het 'n akkoord met die ANC gesluit. Negentien van hierdie partye het deelgeneem aan die verkiesing van 27 April 1994, maar net sewe het die parlement gehaal. Die Vryheidsfront, destyds skaars 'n maand oud, het vierde gekom na die ANC, NP en IVP.

Grondwet
Die belangrikste gebeurtenis in die eerste politieke termyn was die skryf van Suid-Afrika se nuwe grondwet. Hieraan het die Vryheidsfront aktief deelgeneem en veral gefokus op die insluiting van selfbeskikking en groepsregte in die grondwet.

Dit het meegebring dat die Vryheidsfront 'n sleutelrol gespeel het in die insluiting van die volgende artikels in die nuwe Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996):

 
Artikel 30 & 31 <  
  >> Artikel 30 en 31, wat kollektiewe regte vir taal-, en kultuurgemeenskappe erken;
 
Artikel 185 <  
  >> Artikel 185, wat voorsiening maak vir 'n Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe, en
 
Artikel 235 <  
  >> Artikel 235, wat verwys na die konsep van die reg op territoriale selfbeskikking.
 
   


Probleem
Alhoewel die Vryheidsfront Plus sukses behaal het met die insluiting van groepsregte en die reg tot selfbeskikking in die grondwet, beskou die party steeds die grondwet as fundamenteel gebrekkig. Dit voldoen nog nie aan die moderne volkeregtelike standaarde van selfbeskikking nie. Die VF Plus sien die grondwet egter as vertrekpunt om nader te beweeg aan die Afrikaner se ideale.

VF Aksies
Sedert die aanvang van die grondwet, het die Vryheidsfront Plus doelgerig aksies geloods om Afrikaner-belange te beskerm. Enkele voorbeelde: 'n Klagte is by die Verenigde Nasies se Menseregtekommissie ingedien oor die moorde in dorpe en stede, met veral klem op plaasmoorde. Die VF Plus het gewen toe hy die regering met 'n dreigende hofaksie gedwing het om Afrikaanse sensusvorms beskikbaar te stel. Die VF Plus het sy saak by die Persombudsman gewen met sy beswaar teen 'n afbrekende artikel oor die Afrikaner in 'n koerant, waarop die koerant om verskoning moes vra. Die VF Plus maak ook toenemend gebruik van PANSAT om die miskenning van Afrikaans teen te werk.

Jeug
Die Vryheidsfront Plus ontvang ook die afgelope tyd toenemend die steun van Afrikaner-jeug. So het die VF Plus die afgelope agt jaar die Studenteraadsverkiesings by die Universiteit van Pretoria (die Suid-Afrikaanse universiteit met die meeste Afrikaanssprekende studente) gewen.