Vryheidsfront-Beleid : Wat is 'n Volkstaat?
    Verskillende politieke partye en Afrikaner groeperinge het in die verlede die term "volkstaat" gebruik. Omdat elkeen sy eie betekenis aan die woord gegee het, word heelwat verwarrende en negatiewe konnotasies aan die woord geheg. Territoriale selfbeskikking is internasionaal so ontwikkel dat dit nie met 'n enkele woord volledig omskryf kan word nie. Daarom is die volgende agtergrond noodsaaklik om die begrip te verstaan.


DERTIG STELLINGS OOR DIE AFRIKANER EN 'N EIE GRONDGEBIED

 
1
  Afrikanervolk

Die bestaan van 'n Afrikanervolk is 'n historiese gegewe wat kwalik in twyfel getrek kan word; sosiale, politieke, ekonomiese en ander faktore het in die geskiedenis op so 'n manier op mense ingewerk dat 'n selfbewuste en onderskeibare kultuurgemeenskap ontstaan het; 'n gemeenskap waarvan die lede 'n onderlinge lotsverbondenheid ervaar sover dit die verlede en die toekoms aangaan en wat deur 'n gesamentlike staatstrewe beslag aan hulle politieke gemeensaamheid gegee het.



 
2
  Verskeidenheid

Alle Afrikaners beleef vanselfsprekend nie hulle Afrikanerskap dieselfde nie, tree nie eners ten opsigte daarvan op nie, en heg nie eweveel waarde daaraan nie; dié soort verskeidenheid is normaal en politieke verdeeldheid of selfs 'n oorwig van kritiese stemme hef die gemeenskap se bestaan nie op nie.



 
3
  Identifikasie

'n Volk bestaan dus nie by grasie van 'n voltooide en definieerbare identiteit nie, maar omdat mense besluit om in terme van hulle volksgemeenskaplikheid en met die oog op die toekoms met mekaar te identifiseer.



 
4
  Roeping

Gelowige Afrikaners verstaan hulle volkskap as 'n roeping; 'n geroepe volk moet egter voortbestaan, moet derhalwe vry wees en moet daarom 'n land hê waarin hy hom kan uitleef.


 
5
 

Vryheid

Die Afrikanervolk beskik tans nie oor 'n land waar Afrikaners 'n onbetwiste meerderheid uitmaak nie en is sigbaar oppad na onvryheid wat op ontbinding kan uitloop; vryheid kan slegs in 'n eie land en 'n nuwe staat en samelewing gevind word.

 
6
  Werkloosheid

Afrikaners staan voor grootskaalse werkloosheid wanneer regstellende optrede in die nuwe Suid-Afrika die staatsdiens, poswese, spoorweë, gesondheid en onderwys, polisie en weermag, instellings soos die SAUK, Yskor, Eskom, Sasol, sowel as privaatbedrywe vir die groot werklose menigte opeis.



 
7
  Verspreiding

Vanweë Afrikaners se wye verspreiding oor Suid-Afrika kan hulle nêrens politieke, administratiewe en kulturele instellings op die grondslag van gelykheid en demokrasie oorheers nie.



 
8
  Selfbeskikking

Die afwesigheid van 'n gebied waarin Afrikaners die oorgrote meerderheid uitmaak, vernietig egter nie hulle aanspraak op selfbeskikking nie, aangesien dit as 'n primêre reg van 'n volk beskou word en deur die VF erken word.


 
9
  Volkstaat

'n Staat is slegs 'n volkstaat wanneer die bevolking daarvan oorwegend uit volksgenote bestaan, waarin alle permanente inwoners volle burgerregte geniet en waar oop demokratiese verkiesings op volksregering uitloop.


 
10
  Gemeenskaplikheid

Dit is 'n staat waarin gemeenskaplikheid ten opsigte van taal, gebruike, afkoms, geskiedenis en staatsinrigtings vanselfsprekend is.


 
11
  Geen diskriminasie

Dit is 'n staat waarin onderskeidmaking op etniese gronde oorbodig is, omdat dit oorwegend uit volksgenote bestaan.


 
12
  Vrede

Dit is dus 'n staat wat nie deur etniese stryd of kompetisie om regeringsmag ontwrig word nie.


 
13
  Volksgenote

Dit is 'n staat waarin die ekonomiese bedrywige bevolking uit volksgenote bestaan, selfs al behoort hulle tot verskillende klasse.


 
14
  Volksarbeid

Dit is 'n staat waarin arbeid deur volksgenote verrig word en nie deur vreemdes nie, selfs nie vreemdes wat bedags oor die grens kom en saans teruggaan nie.


 
15
  Vreemde arbeid

Dit is 'n staat waarin voorspoed, rus en veiligheid dus nie afhang van vreemde arbeid en vreemde geld of deur skerp veiligheidsoptrede afgedwing word nie.


 
16
  Regering

Dit is gevolglik nie 'n staat waarin volksgenote die regering beheer terwyl vreemdes in die meerderheid is en ekonomies die hef in die hand het nie.



 
17
  Gebiedskeuse

Die keuse vir 'n Afrikanervolkstaat moet val op of die gebied met die grootste huidige konsentrasie van Afrikaners, of op die gebied met die laagste totale bevolking wat deur ontwikkeling effektief beset kan word.



 
18
  Demografie

Afrikaners maak tans sowat 9% van Suid-Afrika se bevolking uit en sowat 2% wanneer die totale bevolking in die volgende eeu 100 miljoen verby steek; dit spreek vanself dat 9% nou en 2% later nie aan die res staatkundige besluite kan voorskryf nie.


 
19
  Grootte

Die grootte van 'n volkstaat moet bepaal word deur die vraag wat Afrikaners kan beset, bewerk en verdedig; uiteindelik kan niks groter as dit behou word nie.


 
20
  Groeipunte

Drie ekonomiese groeipunte wat tot stede van 300 000 tot 500 000 inwoners uitgroei, kan saam met kleiner dorpies en plase in staat wees om die Afrikanervolk se toekoms te verseker.


 
21
  Bevolking

In die ooste en noorde van Suid-Afrika waar die meeste Afrikaners woon, is 90% van die land se bevolking gevestig; slegs 9% daarvan is Afrikaners en die swart bevolking se groei word op een miljoen per jaar bereken.


 
22
  Wes-Kaap

Die Suidwes-Kaap ervaar nou al vir jare 'n toestroming van 26 000 Xhosas per maand, terwyl die toestroming vanuit buurstate onophoudelik voortduur.


 
23
  Noordwes-Kaap

Die yl bevolking en onontwikkelde westelike deel van die land met die Oranje-, Doring- en Olifantsriviere en ander natuurlike hulpbronne bied aan Afrikaners 'n geleentheid om met hoë tegnologiese kundigheid en verstedeliking binne die eertydse Suid-Afrika se grense 'n toekoms te skep.


 
24
  Buitewêreld

Die Weskus maak skakeling met Europa en die Eerste Wêreld moontlik, terwyl die RSA steeds meer onder die invloed van die Ooste mag kom.


 
25
  Militêr

Om staatkundige beheer by wyse van militêre mag af te dwing sal 'n permanente noodtoestand verg, langdurige militêre diens van burgers vereis, buitelandse strafmaatreëls meebring en die staat ontwrig en verarm.


 
26
  Beginselgrondslag

Wanneer die Afrikanervolkstaat se beginselgrondslag reg is, kan die hele volk se steun daarvoor opgeroep word, die wat hulle daar wil vestig, sowel as die wat nie daar kan woon of wil woon nie. Hierdie beginsel kan internasionaal verdedig word.


 
27
  Deel van oplossing

Die verwesenliking van 'n Afrikanervolkstaat moet deel wees van 'n oplossing vir die hele SA se bevolkingsprobleem; vrede en bestendigheid in die hele land en beskerming van Afrikaners wat nie dadelik in die volkstaat kan vestig nie, moet verseker word.


 
28
  Vestiging

'n Bepaalde gebied moet vir Afrikanervestiging geoormerk word met die vooruitsig dat meerderheidsbesetting daar bereik kan word en met die uitdruklike verstandhouding dat hulle voortbestaan as kultuurgemeenskappe verseker sal word.


 
29
  Staatstigting

Die reg om tot staatstigting oor te gaan wanneer hulle dit nodig ag en moontlik vind moet grondwetlik deur Suid-Afrika erken word.


 
30
 

Vrygewerk

Die Afrikanervolk sal dus deur Afrikaners vrygewerk moet word; hulle taal en kultuur sal op die lange duur slegs in 'n volkstaat, onder eie owerheid oorleef en die gedagte dat 'n volksgemeenskap met allerhande truuks in een bedeling saam met ander gehandhaaf kan word, blyk onrealisties te wees.

 
<< terug