Vryheidsfront-Beleid
beleid <   Die Vryheidsfront is onherroeplik verbind tot die beskerming en uitbouing van Afrikaner-belange. Die doel van die party is om 'n regverdige en regmatige bestel vir Afrikaners in Suid-Afrika tot stand te bring, asook om die Afrikaner se vryheid in 'n eie grondgebied te herwin.

Gemeenskapsregte
Die een been van die Vryheidsfront se beleid is dus die aanspraak op gemeenskapsregte. Dit is 'n internasionaal aanvaarde beginsel dat die belange van minderhede in 'n heterogene bevolking soos Suid-Afrika beskerm moet word. 'n Politieke stelsel waarbinne ongekwalifiseerde "een mens, een stem" geld, lewer die minderhede voortdurend uit aan die wil van die meerderheid. Die Vryheidsfront staan so 'n stelsel teen en dring aan dat die regte van groepe doeltreffend beskerm moet word.

 
taalkaart <  

Die regte en belange van Afrikaners en Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika sluit in taalregte, beskerming van kultuur, veiligheid, godsdiens en moedertaal-onderwys.". Die Vryheidsfront stel dit ten doel om hierdie belange te beskerm. Gemeenskapsrade wat op grond van Artikel 185 ('n Vryheidsfront inisiatief) tot stand kom, kan as instrument gebruik word om die Afrikaner (en ander groepe) se groepregte uit te oefen.

Territoriale outonomie
Die ander belangrike komponent van die Vryheidsfront se beleid, is die aanspraak op territoriale outonomie. 'n Minderheidsgroep bly voortdurend kwesbaar binne 'n staatsbestel wat deur ander groepe oorheers word. Beskerming wat vandag met moeite beding word, kan jou môre polities ontneem word. 'n Volk kan slegs waarlik vry wees binne 'n eie grondgebied onder 'n eie owerheid. Hierdie ideaal kan verwesenlik word deur 'n evolusionêre proses, naamlik groter outonomie op plaaslike regeringsvlak wat daarna lei tot selfbeskikking op streeks-, provinsiale en uiteindelik nasionale vlak.

 
demografie <
voorbeelde <
landkaart <
taalkaart <
 

Na 'n deeglike ontleding van die demografiese werklikhede van Suid-Afrika, sowel as die bestudering van internasionale voorbeelde, het die Vryheidsfront 'n grondgebied geïdentifiseer waarbinne die Afrikaner 'n volhoubare meerderheid kan word en uiteindelik gebiedsvryheid kan geniet. Die voorgestelde gebied lê in die Noordwes-Kaap tussen die Weskus en die Oranjerivier. (Sien landkaart en taalkaart)

 
    >> Wat is 'n volkstaat?
>> Mites rondom 'n eie gebied
>> Afrikaner-toekoms